Friday, April 15, 2011

Pragtige Parys

Hier bo is sommer 'n video om julle lus te maak vir Parys! 

Ons twee dae in Parys was absoluut wonderlik!  Geen wonder hul noem dit die romantiesste stad in die wêreld nie!  Wow!  Hier is hoe ons tyd daar verloop het:

Lies het baie  klem daarop geplaas dat ons moet weet treine wag nie vir ons nie en ons is daarom VROEG Sondagogggend uit die vere gejaag!  Ons het die vinnige Thalystrein na Parys gehaal en met ons aankoms was ek nie juis so beindruk nie.  Dit het gereën en alles was vaal.  Ook, die kindertjies in Europa kry nie papier by Kersvader vir Kersfees nie en dan skryf hul maar op elke muur moontlik, spesifiek op mure langs die trein.

 Dit was 'n groot gesukkel om ons hotel te kry.  Rigter (my GPS) wou niks weet van 'n sateliet opspoor nie.  Na ons 'n lang ruk in die grys weer rondgewandel het en elke tweede persoon gevra het - eers of hul Engels praat en dan of hul die pad na ons hotel kan verduidelik, het ons wel ons hotel opgespoor.

Daar aangekom het ons ons sakke afgelaai en afgesit stasie toe om na Versailles te gaan (ons het gelees dat Versailles op Maandae toe is en moes daarom toe al Sondag gaan).  Parys se metrosisteem is redelik maklik om te verstaan omdat al die verskillende lyne nommers en kleure het.   Waarmee mens egter moet rekening hou, is dat die treine in 2 rigtings gaan en alhoewel jy op die regte lyn kan beland, dit steeds na die verkeerde kant kan gaan!  Natuurlik moes ons dit op die harde manier leer.  Ons het op 'n stasie buite Parys se sone 1 geland en het omtrent gesukkel om weer terug te gaan!  Gelukkig kon ons 'n tannie opspoor wat Engels verstaan en sy het ons verduidelik hoe om weer terug in die stad te kom.  Op die ou end het ons omtrent eers na 3 in Versailles aangekom.

Ek het nie soveel van die paleis gehou soos ek gehoop het nie.  Daar was heeltemal te veel goud: die klomp adelike konings van toenterentyd wou mos wys hoe ryk hul is en elke liewe detail van die enorme paleis en tuine is in detail uitgele, geverf of met goud omring.  As 'n mens s daarna staan en kyk kan jy verstaan hoekom die volk so moeilik was.  Die weelde is om van naar te word!  Nogtans was dit 'n besondere ervaring om in so 'n geskiedkundige gebou te staan.




Vanaf Versailles het ons terug na Parys gegaan en by die Eiffeltoring se stasie afgeklim.  'n Mens weet presies hoe dit lyk, maar totdat jy nie onder dit staan nie kan jy nie begryp hoe 'n groot struktuur dit is nie!  Dis ENORM!


By die suidelike poot het ons vir Matt, ons toergids met 'n sebrahoed gekry.  Ons het op 'n Fat Tire Bike Night Tour gegaan.  Ek kon na baie jare se gebrek aan oefening jou wrintiewaar toe nog fiets ry!

Dit was 'n ongelooflike ervaring!  25km in Parys op 'n fiets is iets wat ek verseker sal aanbeveel.  Ons het by die Notre Dame katedraal gestop, roomys geeet op 'n brug wat oor die Seinerivier gaan (die lekkerste roomys OOIT) en oral die mooiste geboue gesien.  Parys is werklik 'n romantiese stad, wel, ek neem so aan, want oral op die brue staan paartjies ineengestrengel!



'n Besondere oomblik was toe ons die geboukompleks van die Louvre museum binnegery het.  Daar was amper geen mense nie en in 'n gang het iemand gestaan en klarinet speel.  Die liggies, die musiek en die glasstrukture tussen die ou geboue was absoluut magic! 


Vandaar het ons na die rivier gegaan en op 'n boot geklim.  Met 'n komplimentere glas rooiwyn in die hand en die Eiffel se liggies wat tussen al die ander glinster, was dit 'n lieflike ervaring.  Elke uur is daar 'n liggieskouspel wanneer die Eiffel se liggies begin flikker en ronddans.  Net jammer so iets kan nie op 'n foto vasgevang word nie.

Die volgende oggend het ons 'n klein bietjie later geslaap en toe die dag opgewonde aangepak.  By die Eiffel het ons op ons rooi Hop-on-hop-off toerbus geklim en die stad vanaf die boonste verdieping beskou.  Ons eerste stop was die Notre Dame katedraal en dit was by verre vir my die hoogtepunt van my besoek aan Parys.  Die ou gebou is enorm, dit het mer as 200 jaar geneem om te bou en die versiering binne is werklik besonders.  Daar is die pragtigste orrel!  Wat die gebou egter anders maak as ander ou geboue, is die feit dat dit werklik 'n atmosfeer van aanbidding het.  Ten spyte van die malende toeriste, het ek steeds 'n heiligheid ervaar soos nog nooit nie.



Na die Notre Dame wou ons graag die Musee d'Orsay besoek, maar toe ons daar afklim het ons gesien dat dit op Maandae gesluit is.  Ons het wel lekker gelag vir die 2 standbeelde van 'n renoster en 'n olifant op voor die museum.  Lekker Afrika!

Ons het te maar weer op die bus geklim verder rondgery.  Ons volgende besoek was die Arc de Triomph.  Daarheen het ons deur die beroemde Champs Elysees gery, maar vir my was dit maar 'n bietjie onder verwagting.  By die Arc de Triomph (wat massief is), het ons die trappe tot heel geklim en die stad so van bo af bekyk. 

 

Hierna het ons weer op ons bus geklim en by Trocedero afgeklim.  Vandaar is die mooiste uitsig oor die Champs de Mars en die Eiffeltoring.


Ons volgende was besoek aan die Justisiegebou, waar die Saint Chapelle is.  Dis 'n kerk wat Louis XIV laat bou het en die wonder daarvan is dat die versiering binne net so geweldig mooi soos die Notre Dame is, maar dat die kerkie in ongeveer 4 jaar voltooi is.  Op die oomblik is hulle besig om die enorme vensters met die wonderlikste glaskunswerke te restoureer en daarom het die heilige gevoel wat 'n mens by die Notre Dame ervaar het, ontbreek. 


Teen die einde van hierdie besoek was dit reeds amper 16:30 en ons was steeds nie by die Louvre nie.  Ons besluit toe om sommer soontoe te loop, maar het ons 'n bietjie misgis met hoe ver dit is.  Op 'n drafstap is ons toe af in die straat om die wereld se grootste museum te besoek.  Ons het net so voor 17:00 by die Louvre aangekom.  Dit is werklik 'n merkwardige plek.  Net die gebou alleen (wat eens 'n kasteel was), is die moeite werd om te sien.  Ons het daar ingehardkloop en gejaag om by die vleuel met die Mona Lisa uit te kom.  Sy is pragtig!  Nie so klein soos wat ek altyd hoor sy is nie, maar wel agter 'n dik glas weggeteek omdat kameraflitse die verf beskadig.  Natuurlik was daar weer 'n lot Sjinese en ek kon skaars 3m van haar af kom.  Toe het ons na die standbeeld Venus de Milo gaan kyk.


Van die Louvre af het ons na die Champs de Mars (die park by die Eiffel) vertrek en so tussen die bome, pieknieks en soenende paartjies na die toring geloop.  Daar het ons in die ry gestaan vir kaartjies om met die hysbak tot bo in die toring te gaan.  Ongeveer 'n uur later was ons op die tweede vloer, wat reeds baie hoog was!  Ons het toe verder gegaan na die heel hoogste punt en die uitsig oor die stad was ongelooflik.  Die Arc de Triomph het in al sy grootheid soos 'n Legoblokkie van daar bo af gelyk!  Hier is die Trocedero waarvan ek vroeer die foto van die toring geneem het.

 

Ons het bo gebly tot dit begin donker word het en die stad se liggies aangegaan het.  Pragtig!


Hierna is ons weer Notre Dame se kant toe om van die vorige aand se lekker roomys te gaan probeer.


Parys het my verras - ek het nie gedink dit is werklik so mooi nie. 

Liewe Lies en Leuven

Genade, die bagasie-area in Brussels is ver van die landingsarea af!  Ons hoef ook nie deur doeane te gegaan het nie - ons het net deur die groen lyn gegaan wat se dat jy niks het om te verklaar nie - en siedaar - daar staan Lies en Jonas!  Gelukkig het die omie by Zurich se lughawe ons paspoorte gestempel, anders het niemand my geglo dat ons wel hier is nie!


Dit was so lekker om die twee te sien!  Hul het ons met haar ma se piepklein karretjie kom haal en nadat ons al vier en die bagasie ingepas is, is ons na Lies se niggie se woonstel in Leuven.  Daar aangekom het ons sommer lekker gekuier en toe het ons die stad ingevaar.  Wat 'n pragtige studentestad! 

Op die oomblik is dit baie stil daar omdat die studente nie daar is nie, maar daar was wel een of ander soort kermis waar die locals rondgekarjakker het.  By een van die gewilde eetplekke het ons lekker geeet en Kriek (kersiebier) gedrink.  HEERLIK! 


 Ons het Jonas se ouers ontmoet, en toe op 'n toer van die Stadshuis gegaan. 



Daarna het ons maar weer iewers gaan Kriek drink terwyl ons vir Lies se ouers wag.  Ons het hulle iewers in een of ander straat ontmoet en hul het ons toe na 'n restourant geneem waar ons elkeen 'n mosselpot geëet het.  Mens kan nie eens naastenby alles opeet nie en saam met die wyn en bier het die Nederlands lekker gevloei!  Lies se ouers is baie gaaf!


Dit was so 'n lekker dag!  Ek kon nie glo ons is uiteindelik daar nie, en ten spyte van die sonbrand (waarvoor Jonas hom doodgelag het, omdat die Suid-Afrikaner haar in België verbrand) kon dit nie 'n meer perfekte dag gewees het nie.




Die avontuur begin!

Ná baie drome, baie reëlings, baie geld spaar (en spandeer!) is dit uiteindelik vir my en Aryna tyd om 'n toer in Europa te gaan doen!  Ons het besluit om nie aan 'n formele toer, soos Contiki, mee te maak nie, maar ons eie pasgemaakte toer te beplan.  Ons vlieg Vrydagaand om 19:40 en land dan eers in Zurich, Switserland, voor ons weer na Brussels in België vertrek.  Ons sal ongeveer Saterdag so 10:05 in Brussels land.  Hier sal ons goeie vriend en vriendin Jonas en Liesbeth ons kry en ons dan vir die dag in hul studentedorp, Leuven, rondneem.  Hier is ons reisprogram - bon voyage!

Datum
Dag
Land
Plek
10 September
Vrydag
Suid-Afrika
VLIEG
11 September
Saterdag
België
Leuven
12 September
Sondag
Frankryk
Parys
13 September
Maandag
Frankryk
Parys
14 September
Dinsdag
Switserland
Interlaken
15 September
Woensdag
Switserland
Interlaken
16 September
Donderdag
Italië
Florence
17 September
Vrydag
Italië
Florence
18 September
Saterdag
Italië
Rome
19 September
Sondag
Italië
Rome
20 September
Maandag
Italië
Venesië
21 September
Dinsdag
Italië
Venesië
22 September
Woensdag
Oostenryk
Salzburg
23 September
Donderdag
Oostenryk
Salzburg/Wene
24 September
Vrydag
Oostenryk
Wene
25 September
Saterdag
Tsjeggië
Praag
26 September
Sondag
Tsjeggië
Praag
27 September
Maandag
Duitsland
Munchen
28 September
Dinsdag
Duitsland
Munchen
29 September
Woensdag
Duitsland
Rothenburg
30 September
Donderdag
Nederland
Amsterdam
1 Oktober
Vrydag
België
Amsterdam
2 Oktober
Saterdag
België
Gent
3 Oktober
Sondag
België
Brugge
4 Oktober
Maandag
België
Antwerpen
5 Oktober
Dinsdag
België
VLIEG TERUG